Kom beleef die avontuur!

In Suid-Afrika, in die buiteland en verseker ook in die Bybel, God se onfeilbare Woord.

 

Na ʼn jarelange skoolloopbaan is jy dalk lus om iets heel anders te doen en in jou eie geestelike lewe te belê. Kom neem dan deel aan die FGG gapjaar vanaf Februarie 2023 by Adullam. Naas uitstappies in die natuur gaan jy ook:

Meer kennis oor die Bybel kry deur Veritas Module 1 en 2 te doen. Veritas College Internasionaal (VCI) spesialiseer in verantwoordelike Bybeluitleg en is in talle lande van die wêreld werksaam, ook in ons land. Die materiaal is teologies van hoogstaande kwaliteit en word deur die Familie van Gereformeerde Gemeentes (FGG) sterk aanbeveel.

Met uitreike na ander sal jy daarmee saam ook die geleentheid kry om jou lewensvaardighede verder te ontwikkel. Vir 1 uit die 6 maande word jy aan ʼn gemeente iewers toegewys waar jy jou nuwe kennis en vaardigheid aan daardie gemeentejeug gaan oordra. Hieruit mag ook besondere en blywende vriendskappe groei.

Jy gaan waarskynlik ook kan deel met die bagasie in jou lewe, terwyl jy jou selfkennis verbreed. Jy gaan geestelik groei en karakter bou. Jou lewens- en wêreldbeskouing gaan verseker verbreed en jy gaan dalk leer om meer as ooit tevore op God te vertrou. Jy gaan saam met ander jongmense ervarings meemaak wat julle lewenslank met mekaar sal kan deel.